Droom GROOT by Innibos 2016

Die Innibos fees, wat jaarliks plaasvind in Nelspruit, is vanjaar 13 jaar oud. Die tema vir dié jaar is “Droom GROOT”, wat baie gepas is aangesien die fees elke jaar net groter en groter word.

Innibos-2016-Droom-Groot-1024x679-2wltm7lyvv870mlg8u8oj94gpvrksvxkkxdiuneqo0giscy18

CN&CO het besluit om deel te wees van dié bekroonde fees, wat die Fiësta-toekenning gewen het vir beste fees in die land in 2015.

Toe Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, by ons hoor of ons dalk sal belangstel om deel te wees by Vallei van Woorde, die vereringsgeleentheid van die bekende skrywer Chris Barnard, het ons dadelik probeer kyk hoe ons betrokke kan raak by die projek. Die program sluit huldeblyke namens die familie in sowel as ’n uittreksel uit die produksie Chriskras met voorleesings deur Paul Eilers.

Innibos begin 29 Junie en loop tot 2 Julie. Daar is iets vir almal, van kunsuitstallings, boekgesprekke, toneelstukke, klassieke musiekvertonings en nog vele meer. Die hele program is beskikbaar op die Innibos webtuiste .

Die hoofverhoog beloof om elke aand ’n buitelug-teaterproduksie te wees en nie net jou normale buitelug konsert nie. Van die GROOTSTE name in die Afrikaanse musiekbedryf gaan dáár optree, van Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk, Corlea, Lianie May, Joe Foster, Leah, Riana Nel en Juanita du Plessis, tot EDEN, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Elvis Blue, ADAM – en dit is maar net ’n paar van hulle!

Rikus van CN&CO sal julle op hoogte hou van wat deur die loop van die fees gebeur op Twitter by @cnandco. Volg ook vir Innibos op Twitter vir die jongste gebeurtenisse.

 

in_c1