Daar’s ’n Vegan op my VERANDAH

Bestel jou kopie hier

R450 plus BTW

Laat ons asseblief weet of u :

Optel in Stellenbosch : KleinBlouklip plaas

Optel in Morningside: Woodburn Rd, Gauteng

Verkies dat ons per koerier stuur

Publikasie datum is 11 Oktober 2022. Alle bestellings voor 10 Oktober 2022 staan in lyn om ‘n vegan fees vir vier mense te wen! Louis en Isabella sal sjefs en gasheer en gasvrou wees.

Boeke kan na 11 Oktober in Stellenbosch, Wes Kaap, of Morningside, Johannesburg opgetel word – of ons stuur via koerier.

Uintjies, perdeblomme en ander dinge – deur Louis Jansen van Vuuren

ONS SIT hier op my veranda in die hartjie van Frankryk, Bella en ek. ’n Veranda en ‘n stoep is soos ’n kombuistafel, waar ’n mens saam brood breek en hande vat uit dankbaarheid vir dit wat die natuur aan ons in soveel oorvloed skenk. Waar jy gesels oor dinge wat saak maak. En as daar boonop ’n kaggel is waar die brandhout gloei, en ’n glasie rooiwyn in jou hand, loop herinneringe kort voor lank kindertyd toe. Ons onthou die dae van stampmielies en bone, van pap rol in jou hande sommer so saam met Maria en Grace om die warm Aga. Van vars vetkoek met soet appelkooskonfyt met ’n knypie gemmer.

Isabella Niehaus en ek loop ’n lang pad saam. ’n Slingerpad vol lag en hartseer, maar altyd om ’n bord koesterkos. Die veranda is ons praatplek. Dis waar ons kosherinneringe deel en nuwe resepte uitdink.

“Hoekom rol ons nie baba-aartappeltjies in komyn en tuisgemaakte kruiesout en bak dit dan tot die velletjie so geurig kraak met die eerste byt nie?” Ons monde begin sommer water en die idees borrel.

Op die kuierstoep kyk ons uit oor ’n dam vol eende en my bostuin waar die natuur sy gang gaan. Daar groei hisop tussen die tone van my kersiebome en grasuie om my geelperskeboom. Smeerwortel rank welig teen die peerboom – alles in harmonie met Moeder Natuur.

Die kombuistuin is vol skoenlappers. Naaldekokers kerjakker tussen pampoenblomme en vrugtebloeisels. Bye is ’n ander passie in my her-wilde tuin. Ek het korwe opgerig sodat bye ongestoord hulle gang kan gaan, want die natuur het ’n patroon van sy eie. Jy moet net jou oë en hart oopmaak om die polsslag te hoor en te voel.

Dis reeds sewe jaar dat ek net plantkos eet. Ja, ek’s ’n vegan – ’n woord wat my voorheen ’n bietjie ongemaklik gemaak het. So, of dit saam met woorde soos trendy en “kultus” in ’n sin hoort – deurspek van voorskrifte.

Maar glo my, dit is nie so nie. My lewe het hier, in die middel van ’n woud, begin verander. My beker loop oor.

Vir Bella was dit ’n nuwe avontuur – die vegan-geit. Maar sy was gewoond aan kosmaak met vars, organiese produkte in haar bekende Duinhuis op Langebaan, en om vegan te dink was daarom nie só ’n groot sprong vir haar nie.

BELLA en ek besluit om ’n boek te maak oor dié spesiale manier van eet. Mense dink dis ’n duur dieet, maar dis nie.

Ons begin speel met hoe tuisgemaakte en vindingryke kombinasies van bestanddele kan sorg vir ’n bekostigbare, voedende en, ja, selfs weelderige bord kos op jou tafel sónder dat jy ’n banklening moet uitneem. Jy gaan trouens genoeg oorhê om te deel!

En om te deel is die doel van die boek. Ons deel ons eerste kennismaking met smake en geure met jou; ons deel die opwindende, ondersoekende  reis waarop dit ons neem, en ons deel uiteindelik die bestaansrede, die raison d’être, vir die versameling stories en resepte wat jy in jou hand hou.

Hoekom ’n boek? Nóg ’n kookboek, kan ek jou hoor sug.

Omdat Bella en ek lief is vir boeke.

Ek druk sommer ’n boek teen my bors vas as iets daarin my tref. Vir my is die manier waarop ’n mens ’n boek vashou soortgelyk aan die aangee van ’n bord kos aan ’n geliefde. Bella vertel weer hoe sy ’n rakkie het met net haar kosbaarste boeke, onder hulle haar ma Issie se A4-hardebandresepteboek. En een wat Vader Claerhout vir haar op tienjarige ouderdom gegee het, sommer so vasgekram, van sketse wat hy van haar oor die jare gemaak het terwyl sy sit en skribbel as hy kom kuier oor ’n een-pot stew

Die lekkerte van saamskryf het in die pandemie begin met ons internetblad, Koesterkos. Ons is sielsgenote wat soveel liefdes en lekkertes deel. Ons raak skoon tranerig van opgewondenheid oor hoeveel raakpunte daar is.

Omdat die boek in breë kwashale ons kosfilosofie, of kosbenadering beskryf, kon ons nie anders as om na herwinde papier vir die druk van die boek te soek nie. Ons rolmodel bly die natuur in sy onopgesmukte eerlikheid. Daarom fokus die inhoud ook op kos sonder oëverblindery. Wat jy sien, is wat jy proe – heilsaam en groen en altyd in ag genome ons prekêre planeet.

Terug-na-die natuur en tuisgemaak is vandag die neiging in ons samelewing. En dis binne dié helende ruimte waar Bella en ek ons skeppende kulinêre gedagtes loslaat om vir jou opsies vir kosmaak te bied wat jy nie op Woolies of Fauchon se helderverligte winkelrakke hoef te gaan soek nie, maar sommer langs jou eie drumpel. Daar mag dalk selfs ’n paar onkruide op jou bord verskyn!

Om plantaardig te eet hoef nie deftig of eksoties te wees nie. Dis ’n tuiskoms, en dis hoe dit benader moet word. Om met respek en waardering om te gaan met die goedheid en heilsaamheid van Moeder Natuur.

Jy het ook nie ’n landgoed nodig om gesonde groente en vrugte te kweek nie. Bella se seun, Taro, kweek op sy Weskus-woonstelbalkon – en sommer in weggooi-potte – ’n magdom tamaties en ’n verstommende versameling kruie. Waar ’n wil is, is ’n weg. En die weg maak gewoonlik ’n draai deur jou spens tot op jou tafel.

VOORDAT ek as ’n laaitie my weeklikse sakgeld kon kry, moes ek die stukkie grasperk waar my pa sy sethoue geoefen het, skoonmaak. Bossies uittrek, het hy dit genoem en dan die setstok geswaai dat jy net polle sien waai. Ek was in standerd ses en ’n tiener, met die gepaardgaande hoogdrawende sin vir styl en smaak wat die res van die gesin eindeloos kon vermaak of verpes.

In die geil strook kikoejoe, wat daagliks met boorgatwater natgehou is, het ’n menigte uintjies en goudgeel perdeblomme gegroei. “Verdomde onkruid,” sou my pa mor en kwaaioog vir my maak. “Jy en Samuel kry nie ’n bloue duit uit my uit voordat alles nie uitgetrek is nie.” Sy nuwe gholfskoene het gaatjies getrap soos hy wegstap.

Ons het lanklaas gras gesny. Die indringers staan gesaai soos goudgeel sonnetjies aan ’n grasgroen uitspansel. Ander het al saad geskiet en is bleek soos die maan. Ons blaas die fyn bolle saad met bolwange voor ons uit. “Oppas dat die goed nie in julle oë kom nie,” skree my ma deur die kombuisvenster.

Dis deksels moeilik om uitjies en perdeblomme wortel en tak met die kaal hande uit te roei. Hulle anker hulleself diep in die grond en as jy nie eers die wortels met die tuinvurkie loswikkel nie, breek die blare en stingel sommer in jou haastige hand af. Om net ’n dag of wat later weer geil te verskyn – tot my pa se mismoedigheid.

Kry ons ’n uitjie heelhuids uit, vryf ons die knolletjie met die vingers skoon sodat die harde velletjie afkom en stop dit sonder seremonie in die kies. Vergete is my opstêrsgeid van vroeër. Hierdie is ongebreidelde kindergenot. Samuel lag breëmond na my kant: “Njam-njam.” Hy skoffel verder en hou sy volgende buit triomfantlik omhoog.

Jakkals nooi vir Gansie: “Kom eet vanaand by my. Daar’s heerlike ou kossies en uintjies uit die vlei.”

Het ons kontak verloor met die eenvoud van ons kindertyd? Met klein plesiertjies? Ons verorber kommersiële reklame oor produkte goedsmoeds as die waarheid. Ons dink nie twee maal oor kos wat in plastiekbedekkings op rakke lê en sweet nie.

Daarom deel ons hierdie boek vol stories en resepte met almal wat ’n waardering het vir die oorvloed van die natuur. Wat vreugde daaruit put om ’n blaar knarsend te kan pluk, te kan byt in ’n tamatie nog koel van die nag, kan snuif aan ’n stingel tiemie.

Kom ons ontdek hoe kundig en skeppend ons met basiese bestanddele kan toor. En kyk dan hoe ryklik die staaltjies en sprokies opwel rondom die moontlikhede wat ’n eenvoudige kombuistuin bied.